‘N ONDERWYSER SE REG OM TE STAAK

‘N ONDERWYSER SE REG OM TE STAAK

article1bl-NovemberDie Wet op Arbeidsverhoudinge, 66 van 1995, (WAV ) was onlangs  in die kollig na kommunikasies van die regering dat hy oorweeg om die onderwyssektor as ‘n noodsaaklike diens te verklaar. Dit het ‘n bron van spanning veroorsaak tussen die regering en die onderwyssektor se vakbonde met betrekking tot onderwysers se reg om te staak.

Die reg om te staak is ‘n grondwetlike reg wat verleen word aan alle werknemers kragtens artikel 23 (2)(c) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 108 van 1996. Die WAV plaas egter sekere beperkings op die reg om te staak ten opsigte van werknemers wat noodsaaklike dienste lewer.

‘n Diens of bedryf, of enige deel daarvan, kan as ‘n noodsaaklike diens verklaar word deur die Komitee vir Noodsaaklike Dienste wat kragtens artikel 70 van die WAV ingestel is. Die Komitee se taak is om ‘n diens, of enige deel van ‘n diens, as ‘n noodsaaklike diens te verklaar nadat daar behoorlik ondersoek is of so ‘n verklaring gemaak moet word al dan nie. Dit is van kritieke belang om daarop te let dat enige partye wat geraak word deur die verklaring van ‘n diens as ‘n noodsaaklike diens deur die Komitee, die reg het om kragtens  artikel 71 van die WAV (waarin die prosedure waarvolgens die Komitee `n diens sal verklaar as ‘n noodsaaklike diens, uiteengesit word) vertoë te rig tot die Komitee met betrekking tot of ‘n diens verklaar moet word as `n noodsaaklike diens al dan nie.

Vakbonde het aangevoer dat die verklaring van ‘n sektor of diens as ‘n noodsaaklike diens ongrondwetlik is in die mate dat so ‘n verklaring die regte van werknemers in ‘n bepaalde nywerheid om te staak, wegneem. Terwyl dit egter korrek is dat artikel 74(1) van die WAV bepaal dat werknemers in ‘n verklaarde noodsaaklike diens nie mag staak nie, is hierdie bepalings nie eensydig nie en maak die WAV wél voorsiening vir bykomende meganismes wat die oënskynlik omvattende beperking op staking, teenwerk.

Eerstens word die werkgewer in die noodsaaklikedienssektor ook  beperk in die gebruik van sy eie bedingingsmag om werknemers uit die werkplek te sluit en hul sodoende  te dwing om die werkgewer se terme en voorwaardes te aanvaar. Die WAV gaan voort en maak voorsiening vir ‘n meganisme waarvolgens noodsaaklikedienswerkers wettig en regtens mag staak mits daar eers sekere ooreenkomste in gereedheid gebring is.

Artikel 72 van die WAV maak voorsiening vir partye in verklaarde noodsaaklike dienste om ‘n kollektiewe ooreenkoms te sluit, wat die minimumdienste wat deur werkers verskaf moet word in die geval van ‘n staking in daardie noodsaaklike diens, kan reguleer. Indien so ‘n minimumdiens kollektiewe ooreenkoms bereik is, sal dit die effek hê dat:

  • die minimumdiensvlakke waarop ooreengekom is, die noodsaaklike diens word; en
  • artikel 74 van die WAV wat verhoed dat noodsaaklikedienswerkers mag staak, nie meer van toepassing sal wees nie.

Dit sal beteken dat die enigste werknemers wat verhoed sal word om te staak daardie getal werknemers of persentasie van die arbeidsmag is wat benodig word om die noodsaaklike minimumdienste te lewer. Alle ander werknemers wat nie die minimumdienste hoef te lewer nie, selfs al is hulle in diens van ‘n sektor of bedryf wat as ‘n noodsaaklike diens verklaar is, sal toegelaat word om te staak.

Die minimumdiensooreenkoms moet die volgende besonderhede bevat:

  • of die diens in sy geheel of net ten dele noodsaaklik is;
  • of die diens steeds noodsaaklik is teen verlaagde diensvlakke;
  • die minimum getal werknemers wat nodig is om voort te gaan met die werk tydens ‘n staking, hetsy uitgedruk as ‘n syfer of as ‘n persentasie van die huidige arbeidsmag;
  • die aard van die dienste wat gedurende ‘n staking voortgesit moet  word;
  • minimumdiensvlakke wat verband hou met onderskeie funksies en pligte wat tydens ‘n staking uitgevoer moet word; en
  • kwytskelding van die reg om tydelike vervangende arbeid aan te stel om dienste te lewer wat meer is as die minimumdienste.

GEVOLGTREKKING

In die lig van die voorgaande is dit duidelik dat, hoewel die WAV voorsiening maak vir ‘n meganisme waarvolgens sektore as ‘n noodsaaklike diens verklaar kan word,  daar in die mate dat dit nie gedoen word nie, meganismes daargestel is vir die sluiting van minimumdiensooreenkomste deur die proses van kollektiewe bedinging as ‘n alternatiewe manier om volgehoue ​​minimumdiensvlakke te verseker.

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.

Kliek hier om die volledige vrywaring te sien

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *